Die Feesterrein is die hartklop van Clover Aardklop Die grootste name in Afrikaanse musiek én ‘n internasionale ster. Nie minder nie as vier verhoë. Uittreksels uit drama's en komedies. Kindervermaak uit die boonste rakke. ‘n Kunsmark en genoeg om te eet en te drink. Laatnagpartye vir die bittereinders. Dít is alles wat jy vanjaar by die feesterrein by Clover Aardklop kan verwag. "Ons het na ons getroue feesgangers geluister en besluit om vanjaar die feesterrein nóg beter te maak," sê Andries Vrey, uitvoerende hoof van Clover Aardklop. "Nie net is daar meer vermaak nie, maar daar is ook ‘n spesiale area wat fokus op kindervermaak. Ons gee ook vir feesgangers die geleentheid om later in die aand partytjie te hou in ‘n veilige omgewing. Die terrein gaan beslis vanjaar die hartklop van die fees wees." Die kykNETmusiek-verhoog is die verhoog waar die groot konserte saans gehou gaan word. Van die groot name wat hier gaan optree sluit in Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Nicholis Louw, Gerhard Steyn, Jannie Moolman, Corlea Botha en Snotkop. Op Donderdag 9 Oktober is dit die beurt van Albert Hammond, internasionale superster met treffers soos "The Peacemaker", "It Never Rains in Southern California" en "The Free Electric Band" op sy kerfstok. Vir feesgangers wat hou van voorkeurbehandeling, is daar Goue Sirkel-kaartjies vir die kykNETmusiek-verhoog beskikbaar. Met hierdie toegangskaartjie het jy toegang tot die terrein van 9:00 soggens en jou stoel sal vir jou voor die verhoog wag wanneer jy in die aand die konsert bywoon. Feesgangers wat nie toegang tot die goue sirkel het nie, moet hul eie stoele saambring of daar is stoele teen R5,00 elk te huur. Vermaak op die FNB-verhoog begin om 10:00 met sangers soos David Fourie, Freddie Nest, Ghapi, Pieter Smit, Die Jaloersbokkies en Armandt Hofmeyr wat optree. Die verhoog sluit om 17:00, maar ná die aandkonserte gaan die partytjie aan met kunstenaars soos Die Campbells en IMJ. Vrydagaand is daar ‘n partytjie vir die jongeres van gees met Jack Parow, Bittereinder en DJ Naaldekoker. Die OFM-verhoog is ‘n verhoog met ‘n verskil. Hier word musiek deur opkomende sangers gemeng met praatjies oor produksies wat op die feesprogram te sien is: Rocco de Villiers vertel hoekom hy deesdae ‘n country boy is, Sandra Prinsloo en Marius Weyers gesels oor ‘vir ewig en altyd', Shaleen Surtie-Richards gesels oor uitkyk-anties om maar net ‘n paar te noem. Die Kinderverhoog is waar die jongspan al hul helde in lewende lywe kan sien. Tjiff & Tjaff, Lollos, Oom Karoolus en Lente, Greta Pers en Nedine Blom sal van Dinsdag tot Saterdag sorg dat daar genoeg kindervermaak is en op Vrydag en Saterdag is Ronald McDonald daar met sy program vol truuks en toertjies. Daar is ook weer vanjaar ‘n speelpark met mallemeules en ander pret-apparate waar kinders van vroegoggend tot laataand kan speel. Die feesterrein het vanjaar 350 stalletjies as deel van die feesmark. Dit is van soggens 9:00 tot saans 21:00 oop. Daar is ook 30 kosstalletjies wat sal oopbly tot die laaste note op die verhoë gespeel is. Daar is meer as genoeg sitplek in die koelte waar feesgangers hul voete kan rus, iets kan eet en drink en na musiek kan luister. Toegang vir Dinsdag 7 Oktober is R90,00 vir volwassenes en R50,00 vir skoolgaande kinders en die Goue Sirkel-kaartjies is R150,00. Woensdag 8 Oktober is die toegang R80,00 vir volwassenes en R40,00 vir skoolgaande kinders en die Goue Sirkel-kaartjies is R150,00. Donderdag 9 Oktober is toegang vir volwassenes R110,00 en R60,00 vir skoolgaande kinders. Goue Sirkel-kaartjies is R250,00. Vrydag 10 Oktober is toegang R120,00 vir volwassenes, R70,00 vir skoolgaande kinders en Goue Sirkel-kaartjies is R200. Saterdag 11 Oktober is volwassenes se toegang R120,00, skoolgaande kinders is R70,00 en Goue Sirkel-kaartjies is R150,00. Vrydagaand is daar toegangkaartjies van 21:00 teen R50,00 beskikbaar vir dié wat die partytjie by die FNB-verhoog wil bywoon. Daar is ook ‘n weekkaartjie beskikbaar teen die winskoop-prys van R300,00. Dié kaartjie gee jou daaglikse toegang tot die terrein van 9:00 tot sluitingstyd en sluit toegang tot die Kinderverhoog, die OFM-verhoog, die FNB-verhoog asook elke aand se konsert op die kykNETmusiek-verhoog in.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking