Stage 5 Films en Red Letter Day Pictures, in samewerking met Advantage Entertainment en kykNET bring in presies ses weke die bekroonde fliek, Hollywood in my Huis, na gehore landwyd. Die fliek spog met drie kykNET Silwerskermfees toekenings vir a) Kenners keuse b) Gehoor-gunsteling en c) Gehoor-gunsteling aktrise (Christia Visser) en sal vanaf 26 Junie 2015 in fliekteaters begin draai.
Die tema-lied ALLES GEE, geskryf en opgeneem deur Joshua na die Reën, is vroeg in Mei 2015 aan radiostasies landwyd uitgereik en kan reeds gereeld gehoor word. Die musiekvideo van hierdie liedjie met beeldmateriaal uit die fliek is ook die afgelope naweek op die kykNET program Jukebox bekendgestel.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=wc8vrgiVQtc
“ALLES GEE is geinspireer deur die rolprent Hollywood in my Huis se dialoog. Nadat die storielyn aan my deurgegee is het ek die liedjie so probeer skryf dat daar ‘n relevansie tot die film sou wees. Ek was op toer en onthou die aand toe ek buite op die stoepie van die gastehuis gesit het in Hoekwil naby Wildernes. ‘n Kersie het gebrand en die nag se atmosfeer het my weggevoer… daar is ALLES GEE geskryf! Ek het ‘n rowwe selfoon opname vir Ben Ludik (Vervaardiger van die Hollywood in my Huis klankbaan) gestuur en later daardie week het hy my verras met ‘n boodskap dat die liedjie amper klaar vervaardig is … dit het my asem weggeslaan, want hy het my hart so mooi vasgevang!” – Joshua na die Reën
Hollywood in my Huis is ’n romantiese komedie oor volwassewording, wat hom teen die agtergrond van ’n matriekafskeid in 2004 in Suid-Afrika afspeel.
Die storie fokus op ’n gewone tienermeisie – Jana van Tonder (Christia Visser) – wat in ’n arm spoorwegbuurt saam met haar disfunksionele ouers woon. Toe sy egter op televisie sien hoe Charlize Theron haar ikoniese Oscar-beeldjie wen, inspireer dit Jana om haar matrieksafskeid wat voor die deur lê in haar eie Hollywood-rooitapyt oomblik te omskep.
Jana, haar ouers (Nicola Hanekom en Louw Venter) en haar beste vriend, Frikkie (Edwin van der Walt) woon almal aan die verkeerde kant van die spoorlyn. Jana se pa is werkloos en haar ma het haar eie skoonheidsalon wat sy uit ’n karavaan in die voortuin bedryf. Die volwassenes se drome is reeds aan skerwe, maar Jana se drome styg ver bo haar beskeie omstandighede uit.
Ondertussen verbreek Brandon (Vilje Maritz), die skool se tenniskampioen, sy verhouding met Angelique (Leandie du Randt), die skool se gewildste meisie. Jana is in die geheim op Brandon verlief, maar net toe sy genoeg moed bymekaar skraap om vir Brandon na die matriekafskeid te vra, verklaar haar beste vriend en buurseun, Frikkie, sy ware liefde aan haar.
Die matriekafskeid vind oor net meer as ’n maand plaas en met die leiding van haar ouers en Suzy (Elana Afrika-Bredenkamp), haar towertante, kom Jana voor die moeilike keuse te staan om tussen haar beste vriend en haar droomou te moet kies.
Jana, wat ’n regte muurblommetjie is, droom oor haar matriekafskeid. Sy glo dat as sy vir Brandon aan haar sy het, alle oë op haar en haar rok wat deur Charlize geïnspireer is, sal wees. Haar grootste teenstand kom egter van die skool se gewildste meisie, Angelique.
Hollywood in my Huis gaan oor twee wêrelde – die mense aan die verkeerde kant van die spoorlyn en hulle ryk teenpole – maar dit gaan ook oor die fantasiewêreld waarin Jana leef. Hoewel Hollywood in my Huis ’n lighartige en prettige gesinrolprent is, het die uitdaging van die storie daarin gelê om ’n balans tussen die ligter en donkerder elemente te handhaaf.
Van Rooyen se kinderdae in Silverton, Pretoria, was die inspirasie vir sy rolprent oor ’n jong tienermeisie wat groot drome droom en wat tot besef moet kom dat sy dapper genoeg moet wees om haarself te wees. Corne werk verskeie aspekte van sy persoonlike lewe in Hollywood in my Huis in. “Ek lyk dalk nie baie na Jana nie, maar hierdie storie is eintlik ’n baie persoonlike storie,” het hy laggend opgemerk.
Die kort storie, Lenie, wat die kabaretkunstenaar Nathaniel geskryf het, het Corne diep geraak en besiel om sy eie verhaal te skryf. Lenie handel oor ’n brandarm ma wat haar eie trourok met beetsap kleur sodat haar dogter dit na haar matriekafskeid kan dra. By die afskeid begin die kleur egter loop. “Soos in my rolprente wys dit hoeveel ouers bereid is om vir hulle kinders te doen, maar daar is altyd iets wat afgee.”
Die draaiboek is ’n hele paar keer herskryf en aangepas. Van Rooyen beskryf sy kortfilm as ’n onskuldiger storie en sê dat hy die huidige vollengte weergawe van sy storie op ’n meer volwasse manier benader het. “Ek het altyd geweet dat my eerste rolprent ’n persoonlike verhaal sou wees. Ek put my inspirasie uit die liefde, my familie en om te dagdroom. Wie en wat ’n mens ook al word, dit bly jou familie wat jou voete vas op die aarde hou; by jou familie weet jy wie jy werklik is.”
Die rolprent is hoofsaaklik in Vasco en by die Brackenfell Hoërskool geskiet. Sekere tonele is egter by Fisantekraal, Observatory en in die Kaapstad-omgewing verfilm.
Amptelike lokprent: https://www.youtube.com/watch?v=qYGEXJHo-Ys
Skrywer & Regisseur: Corne van Rooyen
Vervaardigers: Dylan Voogt en Saskia Schiel
UItvoerende Vervaardigers: Vlokkie Gordon, Jan du Plessis en Karen Meiring
Medeskrywer & Medevervaardiger: Rene van Rooyen
Hollywood in my huis tref die plaaslike silwerdoek op 26 Junie 2015. Verspreiding vind plaas deur Indigenous Film Distribution.
Facebook: https://www.facebook.com/himhfilm
Twitter: @HIMHFilm
Webtuiste: www.hollywoodinmyhuis.co.za