BELLADE VIR N ENKELING SKITTER IN TWEEDE PLEK BY LOKET
Na die openingsnaweek van Ballade vir ’n Enkeling spog dié film met ’n tweede plek by die loket. Ster Kinekor Entertainment, die verspreider van die film, is baie gelukkig met ‘n puik openingsnaweek. “Ons glo dat die sukses by die loket sal voortbou gedurende die skoolvakansie, wat om die draai is. Die terugvoer van die publiek is oorweldigend positief” sê Pieter Geldenhuys, die uitvoerende bemarkingsbestuurder van Ster Kinekor Entertainment.
Die span agter die film is baie dankbaar vir die ondersteuning van Suid-Afrikaners en in besonder vir die meer as 27 500 mense wat die film oor die naweek in teaters gaan kyk het. Dié teatergangers het bygedra tot die openingsnaweek-syfer van R1,358,075.00.
Leon van Nierop se reaksie nadat die openingsnaweek se uitslae aan hom bekendgemaak is, was: “Ek is verheug dat die storie steeds met Suid-Afrikaners praat en dat hulle so ongelooflik positief daarop reageer het. Quentin Krog het Afrikaanse film na 'n nuwe vlak geneem.”
Die vervaardiger Danie Bester voeg by: "Dit is ’n groot eer as die gehoor so positief reageer op ’n rolprent se openingsnaweek, die terugvoer is uitstekend en ek moedig almal aan om Ballade in ’n teater te gaan beleef”.
Die filmspan is uitsonderlik dankbaar teenoor die media en ook die publiek vir die positiwiteit rondom die film. Volgehoue ondersteuning sal ‘n lang teaterlewe moontlik maak en bydra tot die besonderse suksesverhaal van hierdie trots Afrikaanse film.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking