Maandag 23 Maart 2015

Ballade vir ’n Enkeling

BELLADE VIR N ENKELING SKITTER IN TWEEDE PLEK BY LOKET

Na die openingsnaweek van Ballade vir ’n Enkeling spog dié film met ’n tweede plek by die loket. Ster Kinekor Entertainment, die verspreider van die film, is baie gelukkig met ‘n puik openingsnaweek. “Ons glo dat die sukses by die loket sal voortbou gedurende die skoolvakansie, wat om die draai is.  Die terugvoer van die publiek is oorweldigend positief” sê Pieter Geldenhuys, die uitvoerende bemarkingsbestuurder van Ster Kinekor Entertainment.
Die span agter die film is baie dankbaar vir die ondersteuning van Suid-Afrikaners en in besonder vir die meer as 27 500 mense wat die film oor die naweek in teaters gaan kyk het. Dié teatergangers het bygedra tot die openingsnaweek-syfer van R1,358,075.00.
Leon van Nierop se reaksie nadat die openingsnaweek se uitslae aan hom bekendgemaak is, was: “Ek is verheug dat die storie steeds met Suid-Afrikaners praat en dat hulle so ongelooflik positief daarop reageer het. Quentin Krog het Afrikaanse film na 'n nuwe vlak geneem.”
Die vervaardiger Danie Bester voeg by: "Dit is ’n groot eer as die gehoor so positief reageer op ’n rolprent se openingsnaweek, die terugvoer is uitstekend en ek moedig almal aan om Ballade in ’n teater te gaan beleef”.
Die filmspan is uitsonderlik dankbaar teenoor die media en ook die publiek vir die positiwiteit rondom die film. Volgehoue ondersteuning sal ‘n lang teaterlewe moontlik maak en bydra tot die besonderse suksesverhaal van hierdie trots Afrikaanse film.

Vrydag 13 Maart 2015

Pieter Koen - Wat Die Hart Van Vol is


Die sanger, Pieter Koen, se album, Wat Die Hart Van Vol is, is pas vir ‘n SAMA 2015 benoem!  Koen se album is gedurende 2014 vrygestel deur Hit Factory Records en gaan steeds van krag tot krag!  ‘n Nuwe enkelsnit, getiteld, So hard geval, word ook eersdaags aan radiostasies landswyd uitgereik.  
Oor sy SAMA nominasie sê Pieter: “Behalwe dat ek kinderlik opgewonde is, voel ek nederig bevoorreg om genomineer te wees vir die 2015 SAMA’s.  Hetsy ek daardie mooi beeldjie kry of nie, die nominasie voel soos Kersfees in Maart!”
Wat Die Hart Van Vol Is bied nie alleen goeie dansmusiek nie (Tydmasjien, Doenit Net, Die Een Ding Wat Ek Doen en Waar Jy Vanaand), maar ook ’n dieper, weldeurdagte betekenis en gevoeligheid in snitte wat onmiskenbaar die werk is van ’n volwasse musikant en verhoogkunstenaar. “Toe ek saam met welbekende vervaardiger, Murray Lubbe, en bekroonde liedjieskrywer, Johan Oberholzer, begin werk aan hierdie album was daar ’n fundamentele kopskuif wat ek wou vir my nuwe album, verduidelik hy.  Die ander liedjieskrywers sluit Ampie du Preez, Vaughan Gardiner, Hugo Ludik en Reynardt Hugo in. Musikante Juan (Floors) Oosthuizen, Danny Smoke, Denny Lalouette, Vinnie Henrico, Ricus Nel en Matthys Maree het deel aan die produksie.

Ek is ongelooflik dankbaar vir elke oomblik tot nou toe wanneer die skeppingsproses my plat op die aarde gehou het,” erken Pieter. “Wat Die Hart Van Vol Is is ’n perfekte weerkaatsig van waar ek nou is,” sluit hy af. Hy laat niks aan die noodlot oor nieelke aspek van wat hom suksesvol maak is deeglik oorweeg en geskaaf, en in wese deel van ’n veelsydige, volledige vermaaklikheidspakket. Die eindresultaat is suiwer genot van begin tot einde!

Pieter Koen is ook ‘n veldaanbieder vir Kwêla en aanbieder van Jukebox op kykNET 144 en kykNET Musiek 146 elke Saterdagaand.
Die 21ste SAMA benoemingsgeleentheid vind plaas in April 2015.

Sosiale media:
Twitter:  @Pieter_Koen
Facebook:  https://www.facebook.com/skudjoubiscuit?ref=br_tf

Hollywood in my Huis


“Soms moet jy net aanvaar dat jou familie en almal om jou eintlik jou Hollywood is…”   Met hierdie boodskap maak die fliek, Hollywood in my Huisgereed om eersdaags in teaters landswyd te open.  Die lusmaker lokprent is ook vandag om 12h00 vir die eerste keer vrygestel.

 

https://www.youtube.com/watch?v=4geAihjZfS0&feature=youtu.be

Hierdie romantiese komedie het reeds op 31 Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai aandag getrek en met drie toekennings weggestap: a) Kenners keuse b) Gehoor-gunsteling en c) Gehoor-gunsteling aktrise (Christia Visser).  

Hollywood in my Huis vertel die storie van ‘n doodgewone matriek meisie, Jana van Tonder (Christia Visser), en haar ouers, Beatrice en Tos van Tonder (Nicola Hanekom en Louw Venter), asook Frikkie (Edwin van der Walt), haar beste vriend en sy ouma, wat aan die verkeerdekant van die spoor woon. Jana se pa is werkloos en haar ma bedryf ‘n skoonheidssalon vanuit ‘n karavaan in die voorplaas. Die volwassenes se drome is verpletter, tog styg Jana se drome vêr bo haar beskeie omstandighede uit.  Dit is 2004 en haar matriekafskeid is om die draai.  Wanneer sy op televisie sien hoe Charlize Theron die Oscar wen besluit sy daar en dan om haar matriekafskeid in haar eie “Hollywood Red Carpet” glansgeleentheid te omskep.  ‘n Besluit wat haar voor moeilike keuses te staan bring en forseer om met die werklikheid van die lewe kennis te maak.  Sy is heimlik verlief op Brandon (Viljé Martiz) - die skool se hartbreker en tenniskampioen – en is vasbeslote om hom te vra om saam met haar matriekafskeid toe te gaan, selfs al het hy pas met die skool se mees populêrste meisie, Angelique (Leandie du Randt) uitgemaak.  Jana ontsien geen moeite nie en kom nie eens agter dat haar beste vriend, Frikkie sy gevoelens vir haar probeer wys nie…..

Dit het nege jaar geduur voor die regisseur Corne van Rooyen sy kortprent Hollywood in my Huis, wat hy as student aan die rolprentskool AFDA gemaak het, in ‘n vollengte rolprent kon omskep.  Die inspirasie vir die prent oor ‘n jong tienermeisie wat groot drome koester, maar besef dat sy net dapper genoeg moet wees om haarself te wees, dan sal sy haar pad in die lewe vind, put van Rooyen uit sy eie kinderjare in Silverton, Pretoria. Hy sê baie van die gegewe en die karakters is op daardie jare geskoei. Aspekte van sy familie en vriende is te vind in Hollywood in my Huis, “Dit is eintlik ‘n hoogs persoonlike verhaal”.

Die rolbesetting het byna twee en ‘n halwe jaar geduur. Van Rooyen het van die begin af geweet die akteurs gaan die finale deurslag aan die sukses van die storie gee.  Oor Christia Visser wat ook tans te sien is in Ballade vir ‘n Enkeling as Lena Aucamp Jr. sê hy: “Ek het geweet ek gaan nie maklik ‘n beter Jana as sy kry nie, sy werk vanuit haar onderbewuste sy gee nie voor nie, daar is n eerlikheid en varsheid aan haar vertolking.”  Dit het net solank geneem om die ongekunstelde Frikkie te vind. Van Rooyen het oral gesoek by universiteite, skole, agentskappe en selfs op Facebook mense deurgekyk. Toe sien hy vir Edwin van der Walt (ook nou te sien in Ballade vir ‘n Enkeling as Jacques Rynhard Jr.) in ‘n kortfilm raak. Hy het hom tenoor Christia laat speel in ‘n oudisie. “Elke oomblik was hy eg asof hy die rol sonder moeite speel” vertel Van Rooyen opgewonde.

Ander sterre wat ook in die fliek te sien is sluit in Elana Afrika-Bredenkamp, Lida Botha en Marga van Rooy. 

Die prent is hoofsaaklik in Vasco en aan die Hoërskool Brackenfell geskiet. Tonele is ook in Fisantekraal, Observatory en in Kaapstad verfilm.

Hollywood in my huis tref die plaaslike silwerdoek op 26 Junie 2015.  Verspreiding vind plaas deur Indigenous Film Distribution. 

Facebook: https://www.facebook.com/himhfilm

Twitter: @HIMHFilm

Webtuiste: www.hollywoodinmyhuis.co.za

Publisiteit & Bemarking
Starburst Promosies