Maandag 10 Februarie 2014

Joe Foster in Binneland

Joe Foster, die bekende musikant en nou solo-sanger wat eens deel was van ADAM, is genader om die Valentynsdag-episode van BINNELAND ‘n ekstra bietjie meer spesiaal te maak. Met sy eerste enkelsnit van die film met die gelyknamige naam PAD NA JOU HART wat op 14 Februarie 2014 landswyd in teaters gaan begin draai, het die skeppende denkers agter die skerms by BINNELAND besluit om te hoor of Joe nie daardie treffer vir die partytjiegangers in NAGSKOF sal kom sing nie. Joe het ingestem, en die opnames is tydens die laaste gedeelte van November 2013 gedoen by Stark Studios, die ateljees waar BINNELAND opgeneem word. Joe sal ook homself speel, wanneer Daleen Jonker (gespeel deur Desiré Gardner) haar bewonderaarshart net nie kan keer om die sanger in lewende lywe te sien nie, en haar man, Tertius Jonker (gespeel deur Reynardt Hugo) noodgedwonge kaartjies moet kry vir die geleentheid in NAGSKOF om vir vroulief tevrede te stel. Maar wanneer Joe en Daleen mekaar ontmoet, kan ‘n mens nie help om te wonder of daar tog ‘n sweempie van jaloesie oor die dokter spoel nie… Vir ‘n man wat sopas vir die tweede keer ewige trou aan sy geliefde verklaar het in 2013 nadat hy letterlik uit die ‘dood’ opgestaan het, is hierdie nie te dik vir ‘n daalder nie – veral nie as dit by die beeldskone en spontane Daleen kom nie. Kykers sal moet uitkyk vir die episodes waarin Joe Foster verskyn vanaf 14 Februarie 2014 van BINNELAND slegs op kykNET om te sien wat die uiteinde van die storie is… Die Pad na jou hart enkelsnit pryk tans op Nr.1 van talle trefferparades regoor Suid-Afrika.  Die musiekvideo van hierdie liedjie speel ook tans gereeld op talle TV kanale landswyd.